Rubriek vir Stemme24: Julius Malema en die Groot Koek-debakel van 2002

SKRYFYSTER / Rubriek vir Stemme24: Julius Malema en die Groot Koek-debakel van 2002

Rubriek vir Stemme24: Julius Malema en die Groot Koek-debakel van 2002

My nuuste rubriek op Stemme24. Gaan lees hier. Andersins, sien onderstaande.

Julius Malema en die Groot Koek-debakel van 2002

Anna-Bet Bester

As Suid-Afrikaners het ons deesdae nogal baie om voor dankbaar te wees. Die feesseisoen is op hande, mens kan deesdae vir jou ‘n paar Crocs laat customise en binnekort sal ons almal selfvoldane fotos van ons kreunende Kerstafels op Instagram kan laai met ‘n swetterjoel hastags (#eetvoorhongermense #pillevirkersfees #middelklas).

Maar die lekkerste van alles is die spul opwindende goed wat binne en buite die deure van die parlement aan die gang is. Daar was sweerlik nog nooit van te vore so ‘n wye verskeidenheid smaaklose grappies om langs braaivluisvure uit te ruil of skertsend oor middagete vir jou kollegas se vermaak aan te haal nie. President Zuma het immers 99 problems wat meestal uit dames bestaan en Julius Malema en sy aanhangers is in tamatie-straat, ook maar goed hulle is in overalls.

Die namaak van ons landsleier se aksent is deesdae meer komies herkenbaar as ‘n lekker vuil Casper De Vries grappie.

Dit herriner my nogal aan ‘n gruwelike faux pas wat ek begaan het tydens my finale Huishoudkunde-eksamen in Matriek (ook bekend as die alomgevreesde Groot Koek Projek). Juffrou Muis het ons haar wysheid kreatiewe vryheid gegun en toegelaat dat ons enige tema kies. In alle eerlikheid moes sy van beter geweet het.

Ons was immers die jaargroep wat die koshuis-dinee so intensief op horings geneem het dat dit daarna vir alle praktiese doeleindes afgeskaf is. Kom ons se maar net ‘n paar van ons het na daai partytjie ons leerlingraadsbalkies vir ‘n tydjie in die kas laat rus en ‘n paar naweke ekstra by die koshuis spandeer sodat ons elke uur kan inteken by die onderwyser aan diens en twee keer op ‘n Sondag kerk toe gaan. In ‘n rok as jy ‘n meisie is, want sommer en die juffrou sê so.

Iedergeval. Dis 2002. Ek en my Huishoudkunde spanmaat is nie juis vreeslik behendig in kombuis nie, so ons besluit ons gaan ons punte moet inpalm deur middel van kreatiwiteit. Ons krap kop, blaai tallose resepteboeke deur, dinkskrum dat die byle huil en kom uiteindelik met die heel beste idee ooit voorendag.

Die dag van die eksamen daag ons op met ‘n gedetaileerde diagram van die koek, twee blikke Pringles, ‘n sak spookasem, ‘n pak Doritos en ‘n pakkie Jelly Babies.

Ons spring weg met ‘n stink spoed en bak en brou dat die biesies bewe. Die plaatkoek rys soos ‘n droom en toe dit mooi afgekoel het begin ons dit opsny volgens die diagram wat ek in my ma se Kinderpartytjie Kookboek gekry het. Alles verloop vlot en teen die tyd wat Juffrou Muis haar rondtes begin doen om punte toe te ken was ons redelik breëbors en ingenome met die eindproduk.

Daai dag dop ons daai Huishoudkunde Prakties loodreg.

Die koek, sien, was ‘n kommentaar op 9/11. ‘n Plaatkoek-vliegtuig met Doritos-vlamme, twee Pringle-blik torings waaruit spookasem-rook borrel en ‘n hele duisternis Jelly Babies-slagoffers.

Swak idee ouens. Nie eens Ice en Greeff se grafsteen-koek met die Bar One-kruis het soveel opspraak gewek nie.

Sien maats, daai koek was die definisie van ‘too soon’. ‘n Grap is ‘n grap, maar jy bak nie 9/11 koek terwyl Ground Zero nog nie eens heeltemal opgeruim is nie. Selfde met ons kontroversiële landsleiers. Sluk maar eers daai lag en kyk wat gebeur. Ons is op tipping point, moenie nou op een beentjie staan nie. Ons gaan almal ons balans nodig he.

Oh, en as jy ooit ‘n tema-koek moet bak, bak om hemelsnaam net ‘n treinkoek. Almal love ‘n treinkoek.

Category:

Afrikaans, Guest Blogging, Journalism