Rubriek vir Stemme24: ‘n Storie van twee Seders

SKRYFYSTER / Rubriek vir Stemme24: ‘n Storie van twee Seders

Rubriek vir Stemme24: ‘n Storie van twee Seders

My nuuste rubriek op Stemme24. Gaan lees hier. Andersins, sien onderstaande.

n Storie van twee Seders

Anna-Bet Stemmet

Ek het vandag ‘n ding wat ek moet skryf wat ek nou al uitstel van Augustus verlede jaar af. Sien, my oupa John Wilson is verlede jaar op die 25ste Augustus oorlede na ‘n talmende siekbed – ‘n dag voor ouma Suzie se 79ste verjaarsdag en twee dae voor my dogtertjie Alexandra gebore is. Sy sou sy eerste agter-kleinkind wees.

Mens sou dink dat ek, as kopieskrywer, wat sin maak van die wêreld deur middel van die geskrewe woord, lankal pen tot papier sou gesit het om hierdie moeilike situasie aan te spreek.

Ek het egter die seer van die ding in ‘n dik laag verset toegedraai en geweier om ‘n geskrewe woord daaroor te rep, want dit sou dit te werklik maak, jy weet? In stede daarvan het ek al om dit gelewe. Dit help om ‘n pasgebore baba te hê, hulle verg ‘n aardige hoeveelheid aandag en soveel van waaragtig oulik het jy lanklaas gesien. Daardie skitterende klein bolwang-dogtertjie het ‘n klomp mense se seer kom beter lewe sedert haar effens wankelrige geboorte op die boonste verdieping van die Netcare hospitaal in die middel van Kaapstad.

Ewenwel. Ek het die ding geïgnoreer gekry tot verlede Sondag. Ek was vroegdag al op en aan die gang want ek wou nie RSG se heruitsending van ChrisKras (‘n voorlesing van ‘n keur van Chris Barnard se kortverhale as huldeblyk na sy afsterwe op 28 Desember) misloop nie. Ek is ‘n skaamtelose fan girl van hierdie bekroonde skrywer sedert ek in Matriek die voorreg gehad het om hom in lewende lywe te ontmoet na afloop van ‘n Akpol-taalvasvra waarvoor ons sy werke bestudeer het.

Daar sit ek toe op my agterstoep se trappie onder die lendelam wasgoeddraad met ‘n koppie tee en luister na die stories van ou Rooi Koos en sy trawante en voor ek myself kom kry is ek aan die grens. Ek wou nog wonder hoekom ek myself die storie so aantrek toe ek agterkom ek sit eintlik en huil oor Oupa John en toe huil ek eers lekker.

Sien, daar is vele parallele te trek tussen my merkwaardige oupa en die mense waaroor Chris so mooi kon skryf. Soos baie van sy karakters het my oupa ook nederig in die lewe gekom en toe met vele hikke en stote ‘n rasende sukses daarvan gemaak. Hy is ‘n afstammeling van die Skipskop Wilsons – die nasate van ‘n skipbreukeling van na oorlewering op die ouderdom van 16 as verstekeling op ‘n skip van Liverpool af gereis het en toe uitgespoel het neffens Waenhuiskrans nadat die Maid of the Thames op die rotse beland het. Hierdie hardekwas sin van oorlewing was ook in my oupa te bespeur.

Hy was maar tot standerd agt in die skool, maar het homself opgewerk (eers by di e sentrale en toe deur middel van ‘n rits waagmoedige entrepreneursondernemings) tot gerekende boer en burgemeester van Bredasdorp. Onverskrokke – hy het ‘n paar jaar voor sy dood nog vir drie maande die wildernis ingeboender om die migrasie van die wildebeeste in die Serengeti te gaan aanskou sonder om ‘n oog te knip.

Kyk, die man was moeilik. Sy sin van reg en verkeerd was onteenseglik wit-en-swart. Ek persoonlik het my laaste tongloesing aan sy hand op die rype ouderdom van 29 ervaar toe ek een aand ná sy idee van ‘n ordentlike tyd by die huis gekom het. Sy teregwysings was egter altyd gegrond in besorgdheid en omgee en daarvan kan sy vier uiteenlopende kinders en vyf ander kleinkinders ook getuig.

Eendersyds was hy ook ‘n ou softy. Hy was gek na sy tuin en sou ure spandeer om sy rose en koejawelbome na wense te snoei. Sy idee van mooi was ‘n perfekte aronskelk en jy kon hom omkoop met sjokolode en goeie whisky. Toe ek op die ouderdom van ‘n jaar opgeneem is met koors-stuipe het hy en Ouma Suzie my ma-hulle by die hospitaal afgelos en toe die verpleegsters weer kyk slaap ek en Oupa John op die bedjie en my ouma in die kot. Hy het geneurie wanneer hy ingedagte was en het bewoë geraak wanneer hy die tafelgebed doen by familiegeleenthede want wie weet hoe lank ons almal nog gespaar sou bly?

My grootste trots is die leêr in hulle kantoor waarin hy en Ouma Suzie al my stories en artikels bêre.

Toe ek klaar geluister is na ChrisKras loop haal ek my eksemplaar van ‘Voetpad na Vergelegen’ van die boekrak af en lees op bladsy 42 die volgende raak:

“Het jy al ooit daaraan gedink,” sê hy toe, “as ons vir altyd kon lewe, dan sou daar niks meer haastig gewees het nie. Want dan was daar mos baie tyd… Dis die dood, my kind, wat die lewe belangrik maak.”

Praat van ‘n swaar stuk waarheid.

So dis met ‘n hele spul knoppe in die keel dat ek vandag op skrif van my trotse Oupa Johnny afskeid neem en vir Chris Barnard dankie sê dat sy woorde selfs na sy afsterwe die vermoë gehad het om die pad na my hartseer op die mooiste manier denkbaar oop te kloof.

Ek glo beide hierdie forse seders sou saamstem dat dit nie sou deug om jou dagtaak af te skeep vir iets simpels soos ‘n getjankery nie. So ek huil nou maar so stuk vir stuk tussen die wasgoed en die proeflees en die doekomruilery deur, want liewe hemel dis hartseer maar daai babygrow gaan homself nie was nie.

Mooi loop manne. Dankie vir al die lewenslesse. Wederom.

Category:

Afrikaans, Guest Blogging, Journalism