Rubriek vir Stemme24: Ouma Suzie se Engelse tande en die groot Jetslaai-onderonsie

SKRYFYSTER / Rubriek vir Stemme24: Ouma Suzie se Engelse tande en die groot Jetslaai-onderonsie

Rubriek vir Stemme24: Ouma Suzie se Engelse tande en die groot Jetslaai-onderonsie

My nuuste rubriek op Stemme24 oor my Ouma Suzie se ‘Engelse tande’ en die paar kere wat my ouers ‘n stel afgetrap het met die Hoog Brits. Gaan lees hier. Andersins, sien onderstaande.

Ouma Suzie se Engelse tande & die groot Jetslaai-onderonsie

Anna-Bet Bester

My Ouma Suzie Wilson is die toonbeeld van almal se idee van ‘n storie-boek ouma – grappig en vrolik, met ‘n konstante vonkel in die oog wat beloof dat een of ander ondeunde staaltjie net om die draai is. En kyk, staaltjies is daar te kies en te keur. Die heel lekkerste is die verbeeldingryke name van die karakters in haar oorvertelde stories – Stil Piet, Trap-in-die-gaatjie (‘n man met een been korter as die ander), Ou Vaaltyn en Banana die Spietkop is ‘n paar van my gunstelinge.

Ouma Suzie is ook vreeslik vlytig. Van inlê en boeke doen en kleinkinders oppas kan jy vir haar absoluut niks leer nie. Trouens, die enigste merkbare swak plekkie in haar mondering is die gesukkel met die Hoog Brits. As daar iemand kom kuier wat nie Afrikaans magtig is nie, sê sy gewoonlik eers dat ons haar moet verskoon terwyl sy haar ‘Engelse tande’ gaan insit. Maar hierdie stel metaforiese tande hou ook nie tot in lengte van dae nie, sy het by oorlewering na maande se gesukkel om met Lenni, haar nuwe Engels-sprekende skoondogter, te kommunikeer een goeie oggend voor die Aga vir haar gesê “from now on I speak my tale and you speak your tale”, van waar verrigtinge toe aansienlik gladder verloop het.

Ouma Suzie is egter nie die enigste familie-lid wat sukkel met die Engels nie. Elke dan en wan struikel selfs selfs die jonger garde oor die komplekse verknopings van die globale lingua franca

In Desember van 2003 het ons gesin een aand al te heerlik gaan uiteet by ‘n seekos-restaurant in Blouberg ter viering van my verjaarsdag en my ouers se huweliksherdenking wat op agtereenvolgende dae oor die feestyd val. Aangesien dit ‘n dubbele feesviering is word daar toe glad nie terug gehou nie – elkeen bestel ‘n voorgereg, Cap Classique glim glansend in langsteel-glase en ons voel vreeslik fancy. Soveel so dat my pa toe vir die kelner vra om sommer vir ons ‘n tafelslaai te bring saam met ons hoofgeregte, en ook versoek dat hy asseblief seker maak daar is lekker baie jet in die slaai.

Jet? Nee, ons weet toe ook nie so mooi van die jet af nie. Die verwarde kelner het ge-uhm en ge-ah en ge-sorry sir en dit het nogal gemeenskaplike kopkrap gevat om agter die kloutjie by die oor te bring. Die spoggerige slaaiblaar waarna my pa verwys het was toe op die ou-end rocket. Iets wat in die lug opgaan, sien? Deesdae groei my ouers drie verskillende tipes jet in hulle groentetuin op Riebeek Kasteel.

Nog ‘n ander slag was dit my ma se beurt om ‘n taalkundige stel af te trap. Ons kuier een keer bietjie in die Kaap by die Peninsula met my ma se RCI-punte en soos gewoonlik moet een van die kinders ‘n skeet opdoen wat noodsaak dat ‘n winkelsentrum besoek moet word ten spyte van my ma se wens om groot massas mense te alle koste te vermy, spesifiek in aanloop tot Kersfees wanneer toeriste en besoekers die Waterfront bestorm soos hondsdol hamsters.

Maar kyk, as jy Imodium en ‘n ekstra pak baba-doeke moet gaan koop, dan moet jy, so daar vaar my ma toe met ‘n knieserige peuter op die heup en twee neulende pre-teens die Wilde Weste van die Waterfront in om te doen wat gedoen moet word. Mens kan haar eintlik vergewe dat haar Engels agterweë gebly het toe sy na ‘n aansienklike soektog  uiteindelik die aandag van ‘n vloer-assistant by Pick ‘n Pay kry en vra dat hy asseblief vir haar wys “where they keep their wagons”.  Die arme man het toe op die ou-end na ‘n rits vermaaklike gebare-taal improvisasies vir my ma ‘n trollie (oftewel waentjie, soos ons daarna verwys) opgespoor, maar ek wens tot vandag daar was iemand in die omtrek wat skertsend kon antwoord met “net neffens die boeretroos en biltong, Mevrou”.

Maar kyk, jy kan sê wat jy wil Afrikaans-sprekendes wat elke nou en dan hulle naam met ‘n plank slaan wanneer dit kom by die Engels. Ten minste HET ons ‘n stelletjie Engelse tande in die laai, in soveel ander kulture word daar nie van mense vereis om ‘n tweede taal aan te leer nie. Langenhoven het mos gesê “Soveel tale jy kan, soveel male ‘n man”, en hy het nooit gesê jy mag nie bietjie kreatiwiteit aan die hand lê by die gebruik daarvan nie.

Category:

Afrikaans, Guest Blogging, Journalism